20240626 - Gryskrag Logo Finaal_Groot

Floreer Met Fleur

Dagboek: Internasionale Dag vir Ouer Persone: 1 Oktober 2024

Dagboek: Internasionale Dag vir Ouer Persone: 1 Oktober 2024

Maar in Suid-Afrika, ‘n hele week lank!

26 September tot 2 Oktober 2024

 

In 1982, word die eerste internasionale plan rakende die belange van ouer persone in Wenen, Oostenryk bekendgestel en deur die Verenigde Nasies (VN) ondersteun.  By dié byeenkoms in Wenen word die volgende areas van belang as deel van die internasionale plan van aksie rakende ouer persone geïdentifiseer, naamlik: gesondheid en voeding; die beskerming van die ouer verbruiker; behuising; die ouer persoon en families; sosiale welsyn; inkomste sekuriteit; werkgeleenthede en opvoeding en leer.

Sedert die VN Algemene Vergadering se aanvaarding van Resolusie 45/106 in 1990, word 1 Oktober wêreldwyd gedenk as die Internasionale Dag vir Ouer Persone. Dié dag is amptelik deel van die VN se jaarkalender vir die bewusmaking van spesiale wêreld- en sosiale aangeleenthede.

Die Suid-Afrikaanse regering doen ook mee op hierdie spesiale dag en verklaar ‘n week van bewusmaking, gesprek en deelname vanaf 26 September tot 2 Oktober 2024 oor sake van belang wat die ouer persoon in ons gemeenskappe raak.

En natuurlik laat Gryskrag nie so ‘n geleentheid verbygaan nie! 

Ons nooi al ons geliefde vriende om ons te laat weet hoe julle die dae tussen 26 September en 2 Oktober die ouderdom bedink en gevier het – tuis, erens in Suid-Afrika of elders in die wêreld op reis gedurende dié week. (Ons weet dié spesiale week is nog oppad so maak seker julle boekstaaf dit en stuur die inligting vir ons daarna.)

Dalk het jy tyd om met ons ‘n mymering oor ouderdom te deel – stuur vir ons jou storie; miskien kuier jy en vriendinne in ‘n sonkol om ‘n mooi gedekte teetafel – neem foto’s en deel met ons; dalk is dit die ideale tyd om daardie pakkies koekies van huis tot huis te gaan aflewer in die aftree-oord waar jy woon – vertel ons daarvan; miskien kom die son op 1 Oktober so mooi op terwyl jy elders besig is oppad werk toe, tussen die skape in die veld of erens in die natuur besig is om te oefen of stap – vang dit vas op jou foon …

Stuur asseblief vir ons jul stories, foto’s, vertellinge. Ons wil so graag hoor en (met jou toestemming natuurlik) met almal in die Gryskrag Nuusbrief deel.

Die Gryskrag e-pos adres is skakel@gryskrag.co.za

As dit makliker is om vining van jou foon af die boodskap of foto na ons Gryskrag Whatsapp groep te stuur, gebruik hierdie nommer…

Groete tot volgende keer.