20240626 - Gryskrag Logo Finaal_Groot

Floreer Met Fleur

DAGBOEK: SENIORPLUS EXPO, 25 OKTOBER 2024

DAGBOEK: SENIORPLUS EXPO, 25 OKTOBER 2024

Deur Piet Meiring

 

Aandag alle seniorburgers!

Dis tyd vir feesvier. Die week van 26 September tot 2 Oktober vanjaar word landswyd as die Week vir Ouer Persone gevier en in baie stede en dorpe gaan spesiale programme aangebied word. Dit kan nie anders nie, want in ons land neem ouer persone ‘n belangrike plek in. Met die aanvang van die Nuwe Suid-Afrika het President Nelson Mandela alle Suid-Afrikaners gemaan om die senior burgers in die land te eer en te respekteer. “’n Samelewing wat nie sy ouer mense waardeer nie, ontken sy eie wortels en stel sy eie toekoms in gevaar,” het hy gesê. Maak julle dus gereed vir allerlei interessante uitnodigings en programme wanneer die jakarandas begin blom. Madiba se gevleuelde woorde gaan nog ‘n keer in dade omskep word.

In Pretoria gaan die (senior) poppe behoorlik dans! Een van die mees interessante  byeenkomste op die senior-kalender is die SeniorsPlus-expo wat op 25 Oktober 2024 by die Lux Mundi-gemeentesentrum in Garsfontein, Pretoria, aangebied gaan word. In die Plus50 tydskrif het ons reeds vertel van die senior-netwerk wat in Meimaand tot stand gekom het. Meer as 30 organisasies wat met die versorging van ouer mense te make het, het besluit om mekaar se hande te vat en saam te werk. Een van die eerste projekte wat saam aangepak word, is ‘n omvattende uitstalling  om die behoefstes van seniorburgers te belig – en om te wys wie almal wat alles doen om ouer Suid-Afrikaners by te te staan.

25 Oktober 2024 gaan ‘n besondere dag wees, met interessante lesings, mooi musiek en ‘n groot klomp stalletjies wat besoek kan word. Die bekende sanger Jannie du Toit gaan optree en ‘n doedelsak-orkes gaan die mense vermaak. Pretoria se mees gewilde joernalis Blouwillem Theron gaan praat.  Gemeeenskapsorganisasies soos die Magalies Gerontologiese Assosiasie; Helpende Hand; die Centurion Raad vir Bejaardes; en die SAVF, gaan stalletjies beman, so-ook ‘n hele paar kerke wat programme vir seniors aanbied. Radiokansel gaan daar wees, en ook Gryskrag, Plus50 en die Huppel in die Stap-aanbieders.  Professionele dienste wat deur sielkundiges, beraders, oogkundiges en oudioloë gebied word, sal bekendgestel word. En, daar gaan genoeg wees om te eet en te drink: koffie en tee, pannekoek en worsbroodjies, en nog baie meer.

Die Expo is nie net vir seniors bedoel nie. Inteendeel! Ons wil graag almal daar hê: pa’s en ma’s en al die kleinkinders, saam met die oupas en oumas. Ons wil al die geslagte inspireer om vir mekaar om te gee, om na mekaar te luister, en om hul wêrelde met mekaar te deel. ‘n Reeks interessante boeke gaan bekendgestel word, wat bedoel is vir oupa en ouma én die kleinkinders, om saam te lees en te bespreek.

Die adres van die Lux Mundi-gemeentesentrum is Florisstraat 685, Garsfontein, Pretoria.

Dis vir Gryskrag ‘n groot vreugde om hierby betrokke te wees. Die vestiging van die seniornetwerk was ‘n droom wat Gryskrag lank gekoester het, en om te help om die  SeniorPlus-Expo te laat slaag, doen ons baie graag.

Vir meer inligting, skakel Elize van Onselen by Gryskrag: 083 391 1738.